HOËRSKOOL STELLENBOSCH SE SKOOLWAPEN

Wat beteken ons wapen?

Semper Altior:
Dit is die leuse van ons skool en beteken “Altyd hoër”. Dit staan aan die bokant van die skoolwapen as simbool dat ons altyd mik om beter te doen.

Stellenbosch:
Dit is deel van die skool se naam en is op die lint onder geplaas as ‘fondament’ van die skoolwapen, nes Stellenbosch die ‘fondament’ van ons skool is. Ons skool is geanker hier, en ons het waarskynlik die beste ligging binne Suid-Afrika se mooiste dorp, ’n bate van onskatbare waarde.

Eiketakkies met blaar en akkers:
Die eikeblare en takkie aan weerskante van die sertifikaat groei na bo en is simbolies van die skool se lewenskrag, samesyn en onderlinge ondersteuning. Akkers is voorts eie aan Stellenbosch wat ook as die Eikestad bekend is. Die akkers verteenwoordig die skool se eienskap van ‘familie’.

Die sertifikaat:
Die sertifikaat is ’n simbool van opvoeding en akademiese voortreflikheid. Dit word in die middel van die skoolwapen geplaas en is die enigste element in wit, want dit is die kern van wat ons doen.

Die drie kastele:
Dit is ontleen aan die familiewapen van die dorp se stigter, Simon van der Stel. ’n Kasteel simboliseer heraldies ’n stewige vesting, in hierdie geval die tuiste wat Hoërskool Stellenbosch vir al sy leerders bied.

DIE AKKERMOTIEF

Akkers is eie aan Stellenbosch “die Eikestad”, ons tuisdorp. Die akkermotief (soos byvoorbeeld op die sykante van die nuwe sporthempie) verteenwoordig die skool se inherente eienskap van ‘famile’. Die dun strepies aan die bokant van die motief, simboliseer die vingerafdrukke van ons leerders. Elke leerder is uniek, net soos elke leerder se vingerafdruk uniek is.