Musiek

Musiekonderrig lê na aan die hart van Hoërskool Stellenbosch. Hier, in ons nuut-geboude kultuursentrum ontvang leerders uitstekende onderrig en leiding by musiekonderwysers met uitmuntende kennis en ervaring.

Die volgende kursusse word aangebied:

  • Musiek as deel van Skeppende Kunste
  • Musiek as keusevak
  • Musiekteorie vir leerders by UNISA, ABRSM, of Trinity
  • Instrumentale onderrig teen ooreengekome tariewe

Visuele en Grafiese kuns

Hoërskool Stellenbosch het ‘n jarelange verbintenis met die PJ Olivier Kunssentrum in Stellenbosch wat ‘n integrale deel van ons kuns kurrikulum vorm.

Hoërskool Stellenbosch bied die volgende kursusse aan:

  • Kuns as deel van Skeppende Kunste
  • Kuns as keusevak (Graad 8 en 9 – algemene kuns, Graad 10 tot 12 – visuele kuns of ontwerp)

Drama

Hoërskool Stellenbosch kan spog met vele bekende en suksesvolle akteurs en aktrises wat hier aan drama bekendgestel is. Ons dramaklub neem jaarliks aan die ATKV toneel-kompetisie deel, waar ons besonder goed presteer.

Hoërskool Stellenbosch bied die volgende kursusse aan:

  • Toneel-werkswinkel (Graad 8 tot 12) (Geen oudisies hoef hiervoor afgelê word nie)
  • ATKV-toneelgroep (Oudisies word jaarliks afgelê)

Koor

Hoërskool Stellenbosch se koor, onder leiding van Jared Hanekom, is landwyd bekend en het reeds verskeie nasionale toekennings ontvang. Behalwe vir gereelde optredes, gaan kamp en toer die koor jaarliks as deel van hul oefenprogram.

Musiekensembles

Hoërskool Stellenbosch spog met ‘n Jazz- en ‘n Rock-ensemble wat by verskeie geleenthede optree en gehore vermaak met hulle musikaliteit en genot vir musiek.

Ons drumline is baie gewild en beïndruk met hulle presisie en tegniek.

Brandslang is ‘n acappella-groep wat bestaan uit die keur van ons skool se sangtalent. Hierdie groep sangers dien gereeld as inspirasie vir ander om ook te begin sing.

Debat, Toastmasters en Redenaars

Hoërskool Stellenbosch se debatklub neem jaarliks deel aan die ATKV-debatkompetisie en bied hulle kontemporêre onderwerpe goeie stof tot nadenke. Hierdie klub het beslis hulle merk by voorbereide sowel as onvoorbereide kompetisies gemaak.

Toastamsters is ‘n jeugleierskapskursus wat aangebied word deur die Stellenbosch Toastmasters-klub vir graad 11-leerders. Dit fokus hoofsaaklik daarop om kommunikasievermoë te verbeter.

Hoërskool Stellenbosch se redenaarsklub is van top gehalte. In die eerste kwartaal hou ons ’n interne redenaarskompetisie met temas soortgelyk aan dié van die ATKV, waarna die beste sprekers deurdring om aan die ATKV-kompetisie wat in Maart 2024 plaasvind, deel te neem.

Navrae

Vir enige navrae in verband met kunste, kontak: Hanneke Zwamborn-Basson