Hoërskool Stellenbosch is ’n skool vir seuns en dogters met Afrikaans as voertaal. Die leerders is verteenwoordigend van die breë dorpsgemeenskap en kom meestal van skole oor die Wes-Kaap.
Huis du Preez huisves egter leerders van regoor die land, asook van Namibië. Omdat die skool ’n gemeenskap met ’n oorwegend christelike geloofsbeskouing bedien, word die skool se godsdiensbeleid op hierdie beginsels geskoei.
Hoërskool Stellenbosch streef daarna om ’n gemeenskap te bied waarbinne leerders en onderwysers se dryfveer om uitsonderlik te presteer, uitgeleef kan word. In hierdie proses is akademie, kultuur, en sport interafhanklik. Voorts begelei ons onderwysers en ouers die leerders deur die uitleef van waardes ten einde die leerders voor te berei om as burgers tot ’n gesonde demokrasie te kan bydra.
Grietjie – die geskiedenis van ons kanon
In die tyd toe ons skoolhoof se oupa, dr. S H Pellissier, skoolhoof op Ficksburg in die Oos-Vrystaat was van 1916 tot 1926, het hy vir die skool ’n kanon laat maak. Al was die kanon maar ongeveer 40 cm hoog, het dit ’n belangrike rol in die rugbykultuur van die skool gespeel. Wanneer die Ficksburg-rugbyspan hulle wedstryde op ’n buurdorp sou wen, is daar telefonies met die koshuis in verbinding getree waarna die kanon seremonieel voor die koshuis getrek en drie skote met haelpatrone afgevuur is. Só is die hele dorp dawerend van die rugbyspan se oorwinning in kennis gestel.
In 1961 is Theo Pellissier se pa, ook dr. SH Pellissier, as adjunkhoof op Sasolburg in die Vrystaat aangestel. Op Dr. Pellissier (senior) se aandrang kry Sasolburg ook ’n kanon wat deur die Tegniese Kollege in Pretoria gemaak is. Hierdie kanon was wel heelwat groter as Ficksburg s’n; een meter hoog en twee meter lank. Dit was ’n replika van die kanon wat by die Slag van Bloedrivier in 1838 gebruik is en is onmiddellik na Grietjie, die kanon van daardie veldslag, vernoem. In 1962 wy Dr Pellissier (senior) vir Grietjie in met ’n kanonnier wat met ’n seremoniële swaard teen die kanon slaan die oomblik wat die skoot afgaan. Hierdie kanon het met loskruitpatrone gewerk wat ’n groot lawaai en baie rook tot gevolg gehad het. Hoe sou Grietjie aangewend word? Die Sasolburgpersoneel besluit dat die kanon vir akademiese, buitengewone sport- en kultuurprestasies afgevuur sou word. Min is daar besef watter motivering hierdie kanon vir die leerders sou wees. Soveel so, dat Grietjie later na groot sportgeleenthede geneem is om afgevuur te word elke keer as die skool punte aanteken. Mettertyd is Grietjie ook gebruik om die besoek van belangrike persone aan te kondig, en in 1991, toe Dr Pellissier die skool na 30 jaar verlaat, het Grietjie drie skote afgevuur – ’n oomblik wat hom met ’n knop in die keel gelaat het.
Vier-en-twintig jaar later, in 2015, word Theo Pellissier as skoolhoof by Hoërskool Stellenbosch aangestel. Hy deel sy ervaring van die kanon wat as kind vir hom ook geskiet is, asook die passie wat hy as onderwyser by Sasolburg Hoërskool vir Grietjie gehad het. Kort hierna sien Ben Malan, adjunkhoof by Hoërskool Stellenbosch, die foto van Grietjie en neem die inisiatief om ’n effens kleiner kanon by oudskolier Irene Bester se staalwerke op Stellenbosch te laat maak. In Januarie 2016, 108 jaar na die eerste kanon vir hierdie doel aangewend is, gaan die tradisie voort by Hoërskool Stellenbosch. Vandag funksioneer ons kanon met ’n bomklapper wat ook met ’n groot lawaai en baie rook gepaardgaan. Grietjie het op die wyse in die hart van ons skool ingekruip en motiveer en inspireer sy steeds leerders om te presteer ten einde haar erkenning met ’n gebulder te ontvang.